Aardklop Review

hot off the press

“EINDELIK HET ONS REDE TOT HOPE”
Written by Angola Badprop
DIE BEELD, SEPTEMBER 2010

Shannon Hope is vanjaar die miesie wat Aarklop se laatnag gigs splinternuwe hoop gee. Want nie net is sy ‘n skrywer van sterk oorspronklike liedjies nie, maar sy doen haar ding heeltemal op eie houtjie.

Die ding loop só: As ‘n mens laatnag tydens Aardklop in Potch rondsluip, is daar nogal ‘n geneigdheid dat swak talent jou lelik mag ontstel. Gruwelooslik. Soos ouens wat Creedence cover, Kurt Darren namaak (asof hy Elvis is) of selfs net staan en maak of hulle sing! Die Ray Dylan-wannabe’s… Maar soms, net soms, loop jy ‘n juweel raak tussen al hierdie middernagtelike gefuif van roosterkoeke en brandewyn.

Snowflake is ‘n venue wat jaar ná jaar al baie bekend geraak het vir luidkeelse laatnagvermaak wat tot in die oggendure aanhou. In die algemeen kry hierdie mense dit nogal reg om nié die gemiddelde gemors van die feesterrein op hul verhoog te sit nie. Om mee to begin: Snowflake se mense doen byvoorbeeld glad nie backtracks nie… Maar genoeg daarvan vir eers.

Vanjaar is Hope beslis die kunstenaar vir wie jy móét gaan kyk by die Snowflake. Dis nou een van daai mense vir wie jy vyf minute luister en sommer net weet dís nou ‘n miesie wat dit nog gaan groot maak.

Hope (wat spog daarmee dat sy komende Maandag 31 jaar oud is) maak al vir ‘n geruime tyd in obskure Natalse venues en kroeë musiek. Vir die mense van Noordwes en Gauteng is sy dus grootliks onontdek.

Sy speel oorspronklike komposisies terwyl sy vrou-alleen haarself begelei op haar klawerbord. Dis nou nadat sy nie to lank terug nie haar eie rockgroep onder die gat geskop het vir ‘n meer kreatiewe en persoonlike verhoogopset.

“My invloede was altyd goed soos Smashing Pumpkins en Placebo, maar dis nou nie meer vir my nie,” vertel sy. “Deesdae doen ek baie meer serious song writing.”

Shannon is heeltyd op die pad, want volgens haar is daar heeltemal te min akoestiese venues in Natal. Sy Speel meestal in Johannesburg, Kaapstad en veral in Pretoria. Die paadjie Potch toe het sy vanjaar gery juis omdat dit ‘n paadjie is wat sy nog nooit gery get nie. Sy het al meer as 17 000 km in die laaste 6 maande afgelȇ. Dis nou om by haar eie gigs uit to kom.

Maar eers, die stem: Shannon is iemand wat ‘n kamer se dak van sy mure af kan wegsing. Klein botteltjie, groot gif – in die ware sin. Dis iemand wie se musikale omvang ‘n antie soos Tori Amos onder die tafel kan insing, so jy is gewaarsku. Vat iemand soos Nianell, stroop haar van al die cheezy fronte wat sy voorhou en jy is nog nie eers naby aan die rou oorspronklike talent waarmee jy hier to doen het nie.

En as jy praat van ‘n “true school”-musikant, dan is dit óók Shannon. “Ek is te stubborn om gat te kruip,” sȇ sy skaamteloos. Dis hoekom jy nie hierdie kaliber musikant in ‘n lang ry sal sien staan by Idols nie. En ook nie op haar knieë by ‘n platemaatskappy nie.

Dit is onbestrede: Hope is Aardklop 2010 se nuwe stem van die jaar.

Share:

Leave a Reply

© Shannon Hope 2017